VRIENDE VAN
AFRIKAANS
Afrikaans - die vriendelike taal
VRIENDE VAN AFRIKAANS 

IS DIT ONS ERNS?

Ons hoef u nie daarvan te oortuig dat Afrikaans besig is om sy vastrapplek te verloor of dat ons taal oral afgeskeep en selfs moedswillig oor die hoof gesien word nie. Afrikaans is besig om die stryd te verloor.

'n Taal wat afsterwe, word gou 'n minderwaardige taal. Is dit besig om met Afrikaans te gebeur? Die eerste tekens is daar. As ons wat ons moedertaal liefhet, die taal waarvoor ons ouers en voorouers so veel en so lank gely en gestry het, nie nou iets doen nie, gaan Afrikaans binnekort 'n minderwaardige, afsterwende taaltjie word. Vyande van Afrikaans vryf reeds die hande oor die agteruitgang van Afrikaans. En ons sit en toekyk!

'n Taal wat afsterwe, is 'n taal waarin sy mense nie meer ten volle kan lewe nie. Afrikaans is die enigste taal waarin ons onsself kan handhaaf. In ander tale is ons 'n stiefkind, het ons nie volle sêkrag nie.

Afrikaanssprekendes het daaraan gewoond geraak dat die regering alles moet regkry: deur wette, regulasies en subsidies. Daardie tyd is verby. Ons sal iets moet dóén, anders word Afrikaans weer 'n gesinstaaltjie waarin ons kinders nie ten volle sal kan lewe nie. Onder Afrikaanspraters is daar 'n kommerwekkende gebrek aan taaltrots. Luister maar hoe praat ons! Kyk maar hoe gee ons toe aan stiefbehandeling!

Ons toekoms, en die toekoms van Afrikaans, hang van ons af, en nét van ons. Niemand anders gaan hand bysit nie.

Die vereniging DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS is gestig om Afrikaans in ons woon- en werkplekke tot sy reg te laat kom.
 

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS

1. WIE IS DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS?

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS probeer om Afrikaans in ons woon- en werkplekke tot sy reg te laat kom.

Die Vriende is 'n onverbonde groep mense: nie-polities, nie-seksisties, nie-rassisties en nie-godsdiensvoorskriftelik. Ons is nie teen enige taal nie, maar ons is pront, onbeskaamd, onverskonend pro-Afrikaans. Ons voer hierdie aksie sonder vergoeding.

2. ONS LEUSE: Afrikaans ons erns.

3. DIE VRIENDE  VAN AFRIKAANS BEYWER HULLE DAARVOOR:

  • Om Afrikaanssprekendes te oorreed om oral in Suid-Afrika met almal Afrikaans te praat en om vreemdelinge  altyd eerste in Afrikaans aan te spreek. Dit sluit in gesprekke by winkels, poskantore, staatsdepartemente, statutêre liggame, verenigings, en oral waar daar met die publiek in aanraking gekom word. Hierdie doelstelling van "praat Afrikaans eerste" sluit ook telefoonbeantwoording, antwoordmasjiengebruik en fakse in.
  • Om tuis en in gesprekke altyd suiwer en korrekte Afrikaans te praat en om 'n taaltrots by onsself, ons gesinne (veral by ons kinders ) en by vriende aan te 

  • kweek.
  • Om Afrikaanssprekendes te oorreed om Afrikaanse boeke en tydskrifte te koop en te lees. Dieselfde geld vir Afrikaanse musiekkassette, CD's en video's.
  • Om Afrikaanssprekendes aan te moedig om Afrikaanse klasse te reël waar die lees en skryf  van die taal aan ongeletterde Afrikaanssprekendes en ook aan nie-Afrikaanssprekendes, geleer word. Geletterdheid en Afrikaans kan met die hulp van die Stigting vir Afrikaans aangepak word. Skakel met ons hieroor.
  • Om Afrikaanssprekendes aan te moedig en te inspireer om op enige praktiese wyse by te dra  tot die onderskraging van agtergeblewenes, liefs in Afrikaans.
  • Om programme te reël wat die gebruik van en die trots op Afrikaans by jeugdiges, leerlinge en studente sal aanmoedig.
  • Om Afrikaanse kultuuraksies te propageer en te steun.

  •  

     
     
     

    'n Uitstekende boekie wat elkeen sal help om sy taal suiwerder te praat en te skryf, is: Sakboek van Regte Afrikaans, deur Spies en Combrink. Dit kan bestel word by Die Boeksentrum, Posbus 5496, Kaapstad, 8000. Tel. (021) 406 2118. Faks (021) 406 2957. Dit kos R69,95.

STIG ASSEBLIEF 'N TAK VAN DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS IN U OMGEWING OF 
WORD SELF 'N LID.

Skryf aan ons per land- of E-pos, of faks, of skakel ons. Een van ons sal selfs probeer 
om 'n stigtingsvergadering by te woon. 'n Registrasievorm vir die stigting van 'n tak van die Vriende van Afrikaans kan hier afgelaai word.

Moenie wag nie. Doen asseblief dadelik iets vir Afrikaans. Laat ons asseblief weet as u 'n tak stig. Ons wil graag met u in aanraking bly.

4. DIENSTE WAT DIE HOOFKANTOOR OP STELLENBOSCH AAN TAKKE 
BIED

4.1 Koördinering 

Die Hoofkantoor

  • Koördineer alle projekte en takke van die Vriende van Afrikaans.
  • Bewerkstellig wedersydse skakeling tussen  takke.
  • Skakel met die besture van die takke.


4.2 Administrasie

  • Plakkers is by die hoofkantoor beskikbaar. 'n Bestelvorm kan hier afgelaai word.
  • 'n Databasis van takke en lede word in die kantoor op datum gehou.
  • Die Vriende se webblad word vanuit die kantoor bedryf.
  • Nasionale projekte word vanuit die kantoor hanteer.
4.3 Inligtingsdiens
  • Riglyne met projekte 
  • Jongste inligting oor taaltoestande
  • Fotokopieë van knipsels van koerantberigte en tydskrifartikels oor Afrikaans (teen 'n geringe tarief).


5. RIGLYNE VIR DIE BESTUUR VAN 'N TAK

Grondslag

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS is 'n onverbonde groep wat nie-polities, nie-seksisties, en nie-godsdiensvoorskriftelik is. Die vereniging is nie teen enige ander taal nie, maar pront, onbeskaamd en onverskonend pro-Afrikaans.

Doelwit en strewe

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS strewe daarna om Afrikaans in die woon- en werkplek, in die dorp of stad, tot sy reg te laat kom.

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS werk met mense en organisasies saam wat Afrikaans bevorder.

Takbestuur

  • Die Vriende van Afrikaans wys uit sy geledere 'n bestuur aan bestaande uit 'n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en penningmeester. Die bestuur behoort so verteenwoordigend moontlik van sy lede wees.
  • Bestuurslede word nie vir hul dienste vergoed nie.
  • Die bestuur word vir 'n dienstyd van een jaar verkies.
  • Waar subkomitees vir bepaalde projekte of take aangewys word, is dit wenslik dat die voorsitter (en/ of ondervoorsitters) in die bestuur dien.
  • Uit sy geledere wys die bestuur 'n dagbestuur aan wat op kort kennisgewing kan vergader om aandag aan dringende sake te gee, sakelyste vir vergaderings op te stel, memorandums voor te berei en die bestuur te verteenwoordig.
Pligte van die bestuur
  • Die bestuur vergader gereeld en hou minstens twee keer per jaar ledevergaderings waar verslag gedoen word.
  • Die bestuur beywer hom vir die verwesenliking van die doel waarvoor die tak gestig is.
  • Die bestuur probeer om alle lede by take en projekte te betrek.
  • Die bestuur skakel gereeld met die hoofkantoor en doen verslag van aktiwiteite. 
  • In Doendinge, die nuusbrief van die Vriende van Afrikaans, word verslag gedoen oor inligting wat op hierdie manier verkry word. 
  • Die bestuur word aangemoedig om met die besture van ander takke te skakel, veral met besture van die Vriende in hulle onmiddellike omgewing.
Takke probeer voortdurend om nuwe lede te werf.

Die sekretaris se pligte is om:

  • Notule te hou.
  • Briefwisseling te hanteer en, indien nodig, dit na die hoofkantoor te verwys.
  • Sakelyste op te stel en bestuurslede van vergaderings in kennis te stel.
  • Die voorsitter te help met die opstel van nuusbriewe, wat terselfdertyd ook as kennisgewing van ledevergaderings kan dien.


Die penningmeester se pligte is om:

  • Ledegeld in te samel en te administreer.
  • In samewerking met die sekretaris 'n lederegister by te hou.
  • In oorleg met die bestuur na die tak se geldsake om te sien.
Elke tak is selfonderhoudend.

Die finansiële jaar strek van 1 Maart tot 28 Februarie.

Lidmaatskap

  • Takke registreer by die hoofkantoor (registrasievorm is aangeheg).
  • Registrasiegeld van takke by die hoofkantoor is R100,00 per lid per jaar, betaalbaar teen 28 Februarie jaarliks, of so gou moontlik daarna.
  • Takke werk saam met ander organisasies soos die Afrikaanse Sakekamer, en kan met organisasies soos die Afrikaanse Kultuurrraad van die FAK affilieer, maar word nooit deel van sodanige organisasie nie. Geen affiliasie met 'n organisasie met 'n politieke of nie-kulturele strekking of oogmerk word aanvaar nie.
Lede
  • Net indiwidue kan lid word van die Vriende van Afrikaans. Lidmaatskap van maatskappye of ander verenigings word nie aanvaar nie.
  • Bydraes word van lede en organisasies aanvaar. 
  • Werk word vrywillig gedoen.
6. BEDRYWIGHEDE
  • Die bestuur besluit oor aksieplanne en lê dit aan die lede voor. Vir bepaalde aksieplanne kan subkomitees aangewys word waarin lede volgens eie keuse ingedeel word. Subkomitees kan onder meer die volgende wees:
    • Vir die bevordering van Afrikaans by sakeondernemings.
    • 'n Vertaalkomitee wat gratis vertaalwerk doen.
    • 'n Geletterdheidskomitee wat geletterdsheidsprogramme aan agtergeblewenes aanbied. Skakel die Vriende se hoofkantoor vir verdere inligting.
    • Om Afrikaanse kultuurbedrywighede te bevorder, byvoorbeeld toneel- en musiekopvoerings.
    • Om die Afrikaanse boek, koerant en tydskrif te bevorder.
    • Om briewe aan die pers te skryf oor die afskeep van Afrikaans.
Daar is tientalle ander moontlike aksies. Elke tak sal sy eie behoeftes identifiseer en sy eie aksieplan opstel.