|
![]() |
|
|
|
Voorgestelde projekte 1. "Afrikaans Eerste": Praat met 'n vreemdeling éérs in Afrikaans; praat op álle vergaderings éérs Afrikaans; vul die Afrikaanse weergawe van vorms in. 2. Afskeep: As Afrikaans of Afrikaanssprekendes te na gekom word, laat hoor van u by die korrekte instansie. DOEN DIT AS VERENIGING OF ORGANISASIE, NIE AS INDIVIDU NIE. Laat staan petisies, laat staan gedupliseerde bewoordings vir X getal lede - dit is in dié stadium teenproduktief. As u data kort, faks u navrae aan die hoofkantoor van die Vriende van Afrikaans by (021) 887 1999, of stuur E-pos aan ons, by vvafr@sun.ac.za. 3. Antwoord éérs in Afrikaans: maak daarvan 'n gewoonte om in Afrikaans te antwoord as vreemdelinge met u praat. Nie alle vreemdelinge is (net) Engels magtig nie. 4. Amateurtoneel: Speel én help, met tyd, kostuums, rekwisiete, diens en geld. 5. Bediening: Dring aan op Afrikaanse bediening in u omgewing en oral waar u in die RSA gaan - vriendelik maar ferm. Bediening sluit in: mondelinge hulp, brosjures, vorms, aanwysborde, gebruiksaanwysings, strokies, waarborge, fakture en rekeninge. 6. Biblioteke 1: Subsidies vir openbare biblioteke is die afgelope paar jaar so ongelooflik besnoei dat 'n mens se mond oophang. Sorg self vir ontbrekende Afrikaanse tydskrifte en koerante in u plaaslike biblioteek. Borg die jaarlikse intekengeld. Sorg vir meer Afrikaanse boeke daar. Vra byvoorbeeld die bibliotekaris of bibliotekaresse watter Afrikaanse boeke nie aangeskaf kán word met hulle beskikbare fondse nie, en kry húlle. 7. Biblioteke 2: Het élke skool en élke opleidingskollege in u omgewing 'n behoorlike versameling Afrikaanse boeke wat kinders regtig interesseer? Sorg vir intekening op nuwe Afrikaanse tydskrifte en koerante. Hoeveel Afrikaanse dagblaaie, en hoeveel en watter Afrikaanse tydskrifte, is daar in u plaaslike skoolbiblioteek? Borg byvoorbeeld as lid, of as groepie lede, jaarliks die intekengeld vir een nuusblad vir een jaar. Tweedehandse boeke, koerante en tydskrifte is "uit". Jacqueline Kennedy het gesê: "Daar is baie klein wyses om jou kind se wêreld te verruim; die liefde vir boeke is die beste van almal." 8. Biblioteke 3: Het élke skool en opleidingskollege in u omgewing 'n behoorlike versameling Afrikaanse musiek wat kinders regtig interesseer? Sorg asseblief daarvoor. Vind byvoorbeeld by die musiekonderwyser uit, maak as die Vriende van Afrikaans geld bymekaar en koop op gereelde basis 'n aantal CD's vir die skool se musiekversameling. 9. Boekuitstallings: Reël en ondersteun die uitstallings. Kry byvoorbeeld Afrikaanse skrywers, digters en dramaturge wat met gehore kom praat, en wat bereid is om boeke vir kopers te teken. (Sien Leeskringe, Skrywersaande hieronder.)
11. Boekverkope 2: Skakel met die uitgewers van een of meer skrywers van u omgewing. Reël met 'n skakelpersoon van dié uitgewers vir 'n boekuitstalling by 'n afgesproke skrywersaand. Vra die skrywer(s) om iets oor eie werk te sê, en sluit die aand af met genóég tyd vir boeke koop en vir kaas en wyn of koek en tee. Kortom: help u eie gemeenskap, die skrywers en die uitgewers. 12. Geletterdheid: Ondersteun Afrikaanse geletterdheidskursusse vir volwassenes. Bied kursusse aan as u daarvoor toegerus is, of maak spesifiek vir geletterdheid 'n gereelde skenking (geld, surplus boeke of tydskrifte). 13. Geskenke: Gee Afrikáánse verjaarsdag-, prestasie- en Kersgeskenke, byvoorbeeld Afrikaanse boeke, kassette, plate en CD's. 14. Hulpklasse: Ons onderwys is in 'n benarde situasie. Hulpklasse deur medium van Afrikaans kan aangebied word vir leerlinge in alle vakke. Bied sulke klasse aan, of reël die ekstra hulp, en ondersteun dit met u tyd, kennis, diens en geld. 15. Idoom- en spreekwoordeaande: Reël sulke Afrikaanse geleenthede, en laat een of meer mense 'n idioom of spreekwoord voorstel deur aksies en/of kleredrag. Loof 'n prys uit. Betrek veral kinders en jongmense. (Die doel is om met die taal te vermaak.) 16. Inligting: Is inligting oor besienswaardighede en dienste in u omgewing (ook) in Afrikaans beskikbaar? Is die brosjures en inligtingspamflette van u omgewing se gastehuise bv. (ook) in Afrikaans? Sorg asseblief daarvoor. (Sien Omgewing en Vertalings hieronder.) 17. Inrigtings: Sorg asseblief vir Afrikaanse leesstof in inrigtings, tehuise, hospitale en klinieke in u buurt. Gewoonlik is hospitaalsale en -wagkamers totaal sonder leesstof. Tweedehandse items deug goed hiervoor. 18. Kaartspele: Kry 'n kaartskool aan die gang (brug, rummie, solitêr, kanasta ens.) en leer mense, veral jongmense en kinders, om in Afrikaans kaart te speel. Vryetydsbesteding IN AFRIKAANS is belangrik. 19.
Kaartjies:
Ons het 'n gebrek aan Afrikaanse groete-, gelukwense- en beterskapkaartjies,
ja selfs aan sitplekkaartjies vir etenstafels. In Stellenbosch het 'n dosyn
wakker vrouens onder leiding van mevv. Margriet van Niekerk en Lorna Wepener
so 'n bedryf van stapel gestuur en dit is hoogs winsgewend. Dit is 'n "heemprojek"
- hulle gebruik aanhalings uit die werk van Afrikaanse skrywers en digters
slegs van Stellenbosch. Daarom noem hulle die projek "Stellenboschiana".
Hulle versprei die kaartjies direk én via die dorp en distrik se
gastehuise.
20. Kabaret: Skryf op eie houtjie, of as span, Afrikaanse tekste en voer hulle op of laat hulle opvoer. Help met vervoer, plek, apparaat, instrumente, tyd, geld, kostuums, ens. 21.
Kursusse:
Die doel van kursusse soos dié hieronder is om mense vaardighede
te leer sodat hulle ekonomies selfstandig kan word, en wel met Afrikaans
as medium.
1. Die maak van en herstelwerk aan gebruiksartikels.Klik hier vir ‘n volledige lys van spesifieke vaardighede wat deur die aanbieding van kursusse ontwikkel kan word. MOENIE IEMAND NET 'N VIS GEE NIE; LEER HOM/HAAR OM SELF VIS TE VANG Name van moontlike kursusgangers kan verkry word van advieskantore, NRO's, verenigings, jeugorganisasies, arbeidsburo's, welsynsorganisasies, geestelikes, ens. 'n Advertensie kan ook in die plaaslike koerant geplaas word, of dit kan in kerke afgekondig word. 22. Leeskringe: Reël en ondersteun die voorlees en/of bespreking van Afrikaanse kortverhale, sketse, stories en grappe. Hou byvoorbeeld storielees- en storievertelaande. Kry vir afwisseling 'n lees- of voordragkunstenaar wat een of meer kortverhale aanbied. (Bel in dié verband bv. mnr. Paul Eilers by Suid-Kaap Stereo in Oudtshoorn 082 653 1944.) Maak hierdie geleenthede so inklusief moontlik. 23.
Leiers: Bearbei in gesprekke en briewe uitgesoekte
meningsvormers en ander leiers om (ook) Afrikaans te gebruik by openbare
geleenthede. Meningsvormers en leiers bestaan nie net uit politici, geestelikes
en vooraanstaandes nie, dit sluit o.a. ook skrywers, digters, sport- en
sanghelde
24. Literêre toere: Organiseer en ondersteun literêre toere, bv. na die Sandveld, Soweto, Eersterus, Pretoria en distrik, die Bosveld, Bloemfontein en distrik, Boshoff en Koffiefontein, Natal, Groot-Marico, die Oos-Kaap en Mpumalanga. (Bel in dié verband dr. Wium van Zyl (021 96 5753) wat toere na die Klein- Karoo en die Hantam organiseer.) 25. Museums: Sorg asseblief dat bv. uitstaletikette, aanwysings, toegangskaartjies, gidse en brosjures by u museums (ook) in Afrikaans verskyn. 26. Omgewing: Verseker asseblief dat Afrikaans in u omgewing gebruik word, bv. by 'n monument, 'n veldblommetuin, in die gastehuisinligting, of 'n plaaslike roetekaart. 27.
Ondersteun:
Koop gereeld vir u eie huis Afrikaanse boeke, tydskrifte, koerante, kassette,
plate en CD's - stel vir u kinders 'n voorbeeld van hoe om Afrikaans te
lewe.
29. Onderwys: Laat geen steen onaangeroer om Afrikaans as onderrigmedium te behou waar dit tans in 'n skool, kollege, tegnikon of universieit gebruik word nie. Afrikaansmediumonderwys vir Afrikaanse kinders is die onvervangbare hoeksteen van hulle toekoms. Help byvoorbeeld deur onderwysers vir bepaalde vakke uit u eie (groep se) sak te betaal. 30. Plakkers: Koop en vertoon die Vriende van Afrikaans se reeks plakkers. ('n Bestelvorm is hier beskikbaar.) Laat weet die hoofkantoor asseblief van u eie idees vir plakkers, lisensiehouers, lapelknopies, T-hemde, balpuntpenne, ens. Laat druk asseblief self u T-hemde vir die Vriende van Afrikaans, bv. met 'n lekker jongmensaanhaling uit die Afrikaanse letterkunde. 31. Protesteer: Skryf briewe van protes aan miskenners van Afrikaans, bv. sekere adverteerders, beleidmakers, bestuurders, koerante, produsente, uitsaaiers, verpakkers, vervaardigers en wetgewers. Die hoofkantoor van die Vriende van Afrikaans het voorbeelde van sulke briewe. 32. Prysbriewe: Skryf dankiesêbriewe aan ondernemings en bedrywe wat Afrikaans tot sy reg laat kom. Die hoofkantoor van die Vriende van Afrikaans het voorbeelde van sulke briewe. 33. Pryse: Borg Afrikáánse pryse, bv. vir akademiese en sportprestasies: boeke, plate, kassette, CD's, ens. 34. Sang: Afrikaanse solo-, duet- en koorsang: sing én help met vervoer, tyd, talente, lokale, geld, toerusting, boeke, ens. Reël gevarieerde sangaande met AFRIKAANSE MUSIEK, SANG EN TALENT. 35. Skrywersaande: Nooi een of meer skrywers uit om oor hulle eie werk te kom gesels met 'n skool, kollege of vereniging soos die Vriende van Afrikaans. Gee die skrywer(s) geleentheid om oor eie werk te praat. Gee die gehoor kans om vrae te vra. Sorg dat daar eksemplare van die skrywer(s) se boeke te koop is, en vra die skrywer(s) om dié boeke te teken. Hou 'n kaas-en-wyngeselligheid agterna. 36. Skrywersverjaarsdae: Vier ons skrywers, digters en dramaturge se verjaarsdae by skole, kolleges, universiteite en plaaslike vereniging(s). Gee u verbeelding vrye teuels. 'n Mens kan byvoorbeeld 'n heerlike afsluitingsfunsksie vir die jaar- of kwartaaleinde reël met 'n aantal mense wat spreuke van Langenhoven voordra of uitbeeld. (Die doel is om taaltrots te bou én taalvermaak te verskaf.) 37. Storieaande: Kry voorlesers of storie- of grapvertellers wat (byna) uit liefde vir die saak sal optree, en hou 'n vermaaklike aand met die Afrikaanse letterkunde as basis. Vra toegangsgeld en gebruik die wins om Afrikaans (plaaslik of elders) te bevorder. 38. Tuiskoerante: Oral in die land bestaan die behoefte aan die verspreiding van plaaslike nuus, en aan leesstof vir nuutgeletterde volwasse Afrikaanssprekendes. Help met geld, opleiding en apparaat. Help deur boeiende volwasse-leesstof te skryf en te laat druk, teen pryse wat vir nuutgeletterde Afrikaanssprekendes beskostigbaar is. 39. Verenigings: Sorg asseblief dat die verenigings waaraan u behoort (ook) Afrikaans is, byvoorbeeld u plaaslike filatelie-, belastingbetalers- en tennisklub. 40. Vermaak met 'n doel: Kry 'n paar vermaaklikheidskunstenaars wat (byna) uit liefde vir die saak sal optree - sangers, lyfknopers, goëlaars en musikante. Vra toegangsgeld en gebruik die wins om Afrikaans (in u omgewing of elders) te bevorder. 41. Vertalings: Doen of laat doen vertalings van openbare stukke in Afrikaans, bv. spyskaarte, inligtingstukke, toergidse en reklamestukke. Vorm byvoorbeeld 'n plaaslike vertalersgroep met verskillende spesialiteite. 42. Woordskepwedstryde: Reël wedstryde (met of sonder pryse) bv. vir Engelsontleende modewoorde, motor-, onderwys-, rekenaar- en politieke terme. 43.
Woordspeletjies:
Reël
'n middag of aand met Afrikaanse woordspeletjies waaraan verskillende groepe
op verskillende vlakke kan deelneem. Dink maar aan galg, die skep van palindrome,
speletjies met die alfabet as basis, die skep van nuwe volvorme vir bekende
afkortings, bv. waarvoor sou SABC, NP, TV of KGB alles kan staan in goeie
Afrikaans? Vra "inskrywingsgeld", loof 'n Afrikaanse prys of twee, drie
uit, laat die gehoor as geheel stem oor die beste voorstel(le), en skenk
of gebruik die oorblywende geld ten bate van Afrikaans.
|