 |
KUBERWOORDEBOEK
VERSKYN!
Die
tweetalige Afrikaans/Engelse en Engels/Afrikaanse Kuberwoordeboek is sopas
deur Protea Boekhuis (Pretoria) bekend gestel. Met prof Christo Viljoen
as redakteur, in medewerking met prof Niek du Plooy en Samuel Murray, was
die daarstelling van die woordeboek 'n projek van die Vriende van Afrikaans.
Ruim finansiële ondersteuning is gegee deur die Taallessenaar van
die Afrikanerbond.
Die
Kuberwoordeboek is die eerste hersiene woordeboek op die terrein van die
informasietegnologiebedryf sedert die verskyning van die Tweetalige
Rekenaarwoordeboek van N Coetzee, NF du Plooy en AD de V Cluver
in 1987. Hierdie baanbreker-woordeboek het egter verskyn voor die koms
van die internet, en vakterme wat vandag roetinegewys in die internet en
informasietegnologie gebruik word, verskyn nie eens in die oorspronklike
werk nie. Dié vakgebied ontwikkel só snel dat twee tot drie
nuutskeppings weekliks tot die Engelse woordeskat toegevoeg word.
Dus,
as jy wil weet wat die Afrikaanse ekwivalent van "phising", "blogging",
"surfing" of "google" in Afrikaans is, behoort die Kuberwoordeboek op jou
boekrak te wees.
Die
Kuberwoordeboek beslaan 518 bladsye en is verkrygbaar teen R250 by Protea
Boekhuis, Pretoria.
|