Nuusbrief van die Vriende van Afrikaans



Jaargang 7, nommer 5   November  2002     Posbus 3256, MATIELAND 7602

Tel. 021 808-3745, 808-3744             Faks 021 887-1999         E-pos

Opgestel deur Ria Barnard, Louise Combrink, Gideon Joubert en Amanda de Stadler

Hierdie uitgawe word geborg deur Het Jan Marais Nationale Fonds

GEEN KOPIEREG VOORBEHOU NIE. KOPIEER VRYLIK!

Uit die kantoor

1. Ons en die Erfenisstigting

Die eerste algemene jaarvergadering van die Erfenisstigting is op 14 Oktober 2002 by die Voortrekkermonument gehou. Die volgende direksielede is verkies: drr. J.P.C. Mostert, L. Combrink en W.A. Cruywagen, prof. P. Strauss, mnre. F. Buys, W.P. Frost en G. Leith. Mnr. Willem Frost is as voorsitter verkies.

Dr. Louise Combrink is intussen ook deur die FAK benoem as lid van die Raad van Erfenis Wes-Kaap.

Baie geluk aan ons voorsitter! Mag sy ook die Vrouevriende van Afrikaans se plek vol staan!

Dr. Combrink woon die eerste direksievergadering van die Erfenisstigting op 17 November 2002 in Pretoria by en 'n konferensie oor die stand van die onderwys op 18 November 2002.

2. Maandagbrief

Daar is tot op datum twaalf Maandagbriewe deur die kantoor uitgestuur. Lede word aangemoedig om van hierdie brief gebruik te maak om via die kantoor inligting deur te stuur aan 'n groot aantal belangstellendes.

3. Grondwet

Die registrasie van die grondwet word vertraag omdat die vorm van die SAID wat voltooi moet word, slegs in Engels beskikbaar is. Met die bemiddeling van die NNP Taalombudsman, mnr. Adriaan van Niekerk, het ons pas verneem dat die vorms einde November in Afrikaans beskikbaar sal wees.

4. Projekte

4.1 Die Informasietegnologie-termelys behoort teen die einde van die jaar voltooi te wees.

4.2 'n Aansoek om befondsing vir die historiese dagboek, Sodat ons nooit vergeet nie, is by die Hiemstra-fonds ingedien. Hopelik sal daar aan die begin van volgende jaar volstoom met die werk daaraan begin kan word.

4.3 Op 11 November 2002 is 'n musiekprojek van stapel gestuur met mnr. Gideon Joubert as sameroeper. Mev. Alta Coertzen is as voorsitter aangewys en het saam met die sameroeper een van Suid-Afrika se grootste lewende komponiste, Hendrik Hofmeyr, in dié verband genader. Dit wil voorkom of die komponis ‘n kantate oorweeg. Oor die presiese tema, die aard en die uitvoering van hierdie opdragwerk sal ons volledig in die volgende uitgawe verslag doen.

5. MAG (Meertaligheidsaksiegroep)

Die Vriende van Afrikaans is betrokke by die Meertaligheidsaksiegroep wat op die inisiatief van die Wes-Kaapse Taalkomitee gestig is. Die groep is tans besig met die formulering van ‘n eie grondwet. Die VVA is op 2 Desember 2002 die gasheer van MAG se volgende vergadering. Daar sal mettertyd vollediger oor hierdie aksiegroep se aktiwiteite gerapporteer word.

Ons verneem dat die Iilwimi-sentrum by UWK die moontlikheid oorweeg om ‘n kursus in Afrikaans aan Xhosa-sprekende polisiemanne aan te bied. Volgens dr. Charlyn Dyers is een van die grootste struikelblokke die nodige fondse vir hierdie lofwaardige projek.
 
6. Taalaksies

In 'n brief aan die uitvoerende hoof van die SA Hartstigting bied die VVA aan om met die vertaalwerk van hulle slegs-Engelse kommunikasiestukke te help. Op 3 Oktober 2002 berig Die Burger dat die Hartstigting nou marknavorsing laat doen om vas te stel of daar genoeg Afrikaanse intekenare (2 500) sal wees om dit te regverdig om die tydskrif Heart ook in Afrikaans uit te gee. Op 23 Oktober 2002 ontvang ons ‘n brief van die hoof uitvoerende beampte, mnr. De Souza, en ons haal aan: ”Ons resepteboeke is tans slegs in Afrikaans beskikbaar en ons hoop om volgende jaar resepteboeke in Afrikaans en Engels beskikbaar te stel. Ons is tans in die proses om die etikette op ons Rooiharte, ons kollekteblikkies, te verander.” Eureka!

‘n Brief is ontvang van Microsoft se bemarkingsbestuurder wat onderneem om die saak self verder te ondersoek. Mev. De Stadler het Microsoft intussen bedank vir hul Afrikaanse advertensies. Mnr. Adriaan van Niekerk het hierdie saak onlangs in die parlement geopper waar pres. Mbeki teenwoordig was. Ons hou duim vas.

Knelpunte wat vervolgens aandag gaan kry, is die afwesigheid van die Afrikaanse en isiXhosa benamings vir Artscape voor op die gebou, Afrikaans in die Kirstenbosch Botaniese Tuin en die tydskrif Veld and Flora.

7. Strategiese beplanning

Tydens 'n strategiese beplanningsessie wat op I November 2002 gehou is, is die volgende punte uitgelig:

8. Doendinge

 Bykomende eksemplare van Doendinge kan deur takke bestel word teen R1,50 per kopie.

9. Webblad

Nuwe foto's verskyn op ons webblad, asook die nuusbrief van die Stellenbosch-tak en 'n skakel met die Taalmuseum in die Paarl.
Ons wil al ons takke aanmoedig om taknuus en nuusbriewe aan te stuur vir plasing.

10. Uit ons posbus

10.1 'n Getroue lid, mnr. P.H. du Preez van Stillerweë Huis, Hadisonpark, stuur vir ons ‘n lys wenke hoe ons ons taal kan handhaaf. Hy sluit 'n geldelike bydrae in en verskaf die name van mense wat goeie lede van die Vriende sal wees. Hy wys daarop dat die waarde en invloed van die enkeling nooit onderskat moet word nie. Hy sê ook: "Dis nodig dat ons elke dag positief sal lewe. Ons het mekaar nodig. Ons moenie afstoot nie, maar aantrek." Dankie, mnr. Du Preez, vir wyse woorde in keurige Afrikaans.

10.2 Uit Oos-Londen bedank me. A. Du Plooy ons vir Doendinge. Sy sê, hoewel Oos-Londen ‘n baie Engelse plek is, is daar nog baie mense wat lief is vir Afrikaans. Dankie ook vir u gewaardeerde skenking en positiewe gesindheid.

10.3 Mnr. Taljaard van die Strand stuur vir ons ‘n pragtige advertensie van die AA (Outomobiel Assosiasie).

10.4 Mev. Du Toit van Stellenbosch vertel van ‘n posbestellingsblad van VOLPES van Port Elizabeth wat Afrikaans laat klink soos net Afrikaans kan klink! Baie dankie vir die moeite om dit met ons te deel.
(Ons pos vir die AA en VOLPES elk 'n Doendinge en sê dankie.)

10.5  Dr. Andre Ernst doen navraag oor Afrikaanse dagboeke. Hy vertel ook van 'n reisgids oor Turkye in Afrikaans. Dié glansboek met kleurfoto's is in Turkye gekoop en aan ons geleen deur me. Lynne Bresler van die Strand. Die boek is gepubliseer deur 'n Turkse uitgewery. Ongelukkig word nie genoem wie dit vertaal het nie. Wat ‘n aangename verrassing in die vreemde!

11. Klagtes

Prof. Pierre Theron van George kla oor die miskenning van Afrikaans deur ABSA en SANLAM. Briewe is in dié verband gerig aan Die Burger en aan mnr. Ton Vosloo.

12. Versoeke

12.1 Indien u Afrikaanse boeke het waarvan u ontslae wil/moet raak, skenk dit asseblief aan die VVA. Dit sal met groot sorg en waardering hanteer word.

12.2 Ons het 'n prokureur genader vir die moontlike bewoording van 'n kodisil indien u die VVA as 'n begunstigde in u testament wil benoem:
Verder tot enige bestaande testament bemaak ek hiermee aan die Vriende van Afrikaans die bedrag van ...

12.3 Mnr. Victor Khambule van die Vorentoe-tak van die VVA in Soweto vra lede se hulp. Hy sal enige Afrikaanse lektuur en musiek waardeer om hom in sy onderrig van Afrikaans aan die lede van die tak te help. (Ons dink hier veral aan skole wat moontlik materiaal in boekkamers het wat tans nie meer gebruik word nie. Die kantoor van die VVA sal alle versendings hanteer.) Help asseblief. Mnr. Khambule doen waardevolle werk onder VVA-taklede wat baie entoesiasties is oor Afrikaans. Sy kontakbesonderhede is: 2777 B Gebied 10, Meadowlands, Pk Iketlo, Soweto 1852.

13. Algemeen

13.1 Ons hartlike dank aan mev. Anél Uys vir die aanbod om gratis as ons finansiële administrateur op te tree. Ons besef wat haar dienste in tyd en geld werd is en waardeer dit opreg!

13.2 Ledevergaderings wat vir 2003 beplan word, sal op die volgende datums gehou word te Banghoekweg 115, Stellenbosch:

14 Maart 2003
20 Junie 2003
17 Oktober 2003
Dit sal waardeer word as u ons kantoor vroegtydig kan in kennis stel as u beoog om die vergadering(s) by te woon. Al ons lede is welkom!
 
Nuus van ons takke

1. Potchefstroom

Op 3 Oktober 2002 is 'n vergadering gehou om beslag te gee aan 'n nuwe voorgestelde struktuur vir VVA-Potchefstroom waarheen alle instansies in Potchefstroom genooi is.

"Die nuwe struktuur het ten doel om totale stadsbetrokkenheid by die VVA te bewerkstellig, Afrikaans diensbaar te maak deur gemeenskapsprojekte en selfs talentontginning te doen. VVA-Potchefstroom het reeds die tentatiewe steun van Radio Sonder Grense (RSG) hiervoor verwerf. Die positiwiteit waarmee hierdie aksie begroet word, is baie goed en dit wil voorkom asof ons daarin kan slaag om die plaaslike bestuursowerheid as koördineerder te betrek."

VVA-Potchefstroom dien op 24 Oktober 2002 die volgende mosie in vir oorweging:
"Vriende van Afikaans bied ere-lidmaatskap aan vir leiers van Suid-Afrikaanse politieke partye wat hulle vereenselwig met, en verbind tot, die doelstellings en beginsels van dié organisasie."
 
Op 1 November 2002 is op 'n ledevergadering te Stellenbosch eenparig besluit dat die VVA nie by politiek betrokke wil raak nie en dat slegs mense wat uitsonderlike diens aan Afrikaans lewer, deur die VVA vereer sal word.

2. Stellenbosch

Die Stellenbosch-tak het ‘n nuwe voorsitter, mnr. Dirk van der Merwe. Hulle nuusbrief sal binnekort op die VVA se webwerf gelees kan word. Dankie aan die uittredende voorsitter, dr. Dirk Visser, vir sy jarelange diens aan Afrikaans. Geluk met die baie geslaagde Totius-aand op 14 Augustus 2002.

3. Wellington

Dr. Etienne Smit berig dat hulle tak Valiant Swart genooi het om op 29 Augustus 2002 op Wellington op te tree. Dit het daartoe gelei dat hierdie tak ‘n donasie van R1000 tot ons kapitale fonds kon maak. Baie dankie vir die moeite en harde werk.
 

Die WAT se slim plan vir fondsinsameling

Sir Seretse Kgama het op ’n stadium die beesboere in Botswana versoek om elkeen ’n bees te skenk. Hy het self honderd bees geskenk en uit die opbrengs wat dit gelewer het, het die Universiteit van Botswana tot stand gekom.

Is dit nie dalk tyd dat elkeen van ons wat beeste het, ’n bees skenk in belang van Afrikaans nie? En as ons nie beeste het nie, dan ’n bok of ’n skaap, ’n vark of dalk ’n hoender?

Die TRUST van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT TRUST) is bereid om die vendusies te reël waar al hierdie derduisende stuks vee – klein en groot - te koop aangebied gaan word. By hierdie vendusies kan ons dan, soos in die ou dae, op die platteland, heerlik Afrikaans praat.

Maar vandag is baie van die boere van ouds wildboere. Hulle kan ’n springbok, ’n buffel, ’n seekoei, ’n renoster of selfs ’n roofdier vir die vendusie skenk. Alles sal mooi uitmekaar gehou word sodat daar geen onmin sal wees nie.

En die vrugteboere? ’n Kissie perskes, druiwe of lemoene kan smaak aan die verrigtinge gee. En die groenteboere? Uit die opbrengs van ’n paar sakkies aartappels kan Afrikaans al ver gedra word. Dan het ons nog nie eers die wynboere genoem nie. By so ’n vendusie sal daar lekker gesels word as die produk van die wynboer sy plek volstaan in belang van Afrikaans. Daar is ook nog die koringboere, die teeboere, die blomboere en baie ander boere.

Die WAT TRUST wat fondse genereer en fondse werf vir die voltooiing van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), sal elke boer se plan wil hoor.
 
Kontakpersoon: Dr. Dirk van Schalkwyk 
Tel: 021 887 3113
Faks: 021 883 9492
E-pos: wat@wat.sun.ac.za

Wêreldwye Afrikaanse Kortkortverhaal-wedstryd

Die Interafrikaanse Trust  in samewerking met Euro-Afrikaans en die vakbond UASA, hou wêreldwyd ’n Afrikaanse kortkortverhaal-kompetisie. Inskrywings word tans ingewag en sal beoordeel word deur drie literêre kenners.

Prysgeld:
Volwassekategorie:           Eerste prys:   R4500
                                       Tweede prys:  R2500
Skoliere:                          Een prys:   R3000

Die prysgeld word deur UASA geborg. Sluitingsdatum: 15 Maart 2003

Volledige besonderhede van die kompetisie en sy reëls kan gelees word op die webtuistes
www.e-klets.com en www.ned.univie.ac.at/afrikaans

Nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls “voller en vriendeliker”
(Verkort uit Die Burger, 4 November 2002)

Die nuwe reënboogkleurige AWS is ‘n allemintige verbetering op sy blou voorganger. Die spelling self het grotendeels onveranderd gebly; dit is hoofsaaklik die formulering van die spelreëls wat aangepas is. Ander verbeterings is byvoorbeeld die talle kruisverwysings, die duideliker tipografie en bladuitleg, die genommerde reëls, die trefwoorde boaan elke bladsy wat naslaan vergemaklik – alles sake wat gebruikersvriendelikheid bevorder.

Die resensent, Dineke Ehlers, beveel ten slotte aan: "As jy in 1991 besluit het jy gooi die AWS weg omdat dit jou moedeloos en magteloos laat voel, skaf gerus die nuwe AWS aan. Dit is ‘n goudmyn van nuttige inligting, ten spyte van enkele haakplekkies. Enige iemand wat in Afrikaans skryf, behoort ‘n eksemplaar van die AWS op sy/haar lessenaar te hê."

Die nuwe AWS het van die 393 bladsye van die 1991-uitgawe uitgedy tot amper 600 bladsye. Nuwe byvoegings is ‘n lys woorde getitel “Omgangsafrikaans”en ‘n lys buitelandse geografiese name met afleidings.

Luister net na dié blomme

In Rapport van 29 September 2002 bring Johan Vosloo hulde aan die poëtiese prag en onvertaalbaarheid van die Afrikaanse blomname in Namakwaland:
 

kalkoentjiebos en kloe-kloekie; kruidjie-roer-my-nie en jan-twak saam met jantjie-bêrend, wit-dirkie en jonkmansknoop; weeskindertjies, klap-klappie, sentkannetjie, tjienkerientjee en botterkannetjie ...
gansogiebos, vieroulap, sambreeltjies en borseltjiegras; horlosiebossie, boesmanskers, koerasie, randpampoentjies en tonteldoosbos; geldjiesbos en duifiedoring; sandpampoentjies
Die Namakwa, die inheemse ras van die streek, het vir seker fluks naam gegee, waarna die eerste wit veeboere met hulle eie beskrywende name gekom het. Invloed van die Koi-taal word gehoor in die ou name wat nog in omloop is, met die kenmerkende tongklap op die voorste lettergreep: t’aibie, t’arda, t’gibbiebos, t’kabadda, t’gouboedanna, t’narra, t’neitjie.

AHO-taalbeleid vanuit 'n ander perspektief

In sy tweeweeklikse rubriek in Die Burger op 12 September 2002 bevraagteken Kole Omotoso die geldigheid daarvan dat van Afrikaans verwag word om sy eie status te versaak en na Engels oor te skuif om swartes wat toegang soek tot gehalte-onderwys, te bemagtig. Veral omdat dit veronderstel dat swart mense vyandig ingestel is jeens Afrikaans op grond van die 1976-onluste in Soweto en die opdwing van Afrikaans as onderrigtaal.

Hy stel dit baie sterk: "Dit is verregaande om te vra dat daar opgehou word met Afrikaans en oorgegaan word na Engels vir die bemagtiging van swartes. Dit kyk die kern heeltemal mis en is 'n ongevraagde uittarting onder die voorwendsel om hulpvaardig teenoor swartes te wees. Dit is moeilik om te veronderstel dat swartes gelukkig sal wees met die vernietiging van Afrikaans, 'n taal wat miljoene van hulle praat, net om hulle toegang te gee tot Afrikaanse instellings van hoër onderwys."
 
Toe sakemanne nog "besighydskerels" was

Goeie raad fer besighydskerels

Maak di aand fan te fore jou skoene skoon; skeer jou daarna en gaan dan slaap. Maak di wekker ni stil nie foor jy eers uit di bed is; gaat na jou besighyd fyf minute foor jy noodig het dit te doen. In di besighyd, hoor alles, sê niks en gaat an met jou werk. Na besighyd gaat dan reguit huis toe, en na di nodige huis regels folbreng te hê, herhaal dan di bogenoemde dosis. Die re'els mag belaglik lyk maar is aangeraai deur 'n groot besighyds man wat by onderste sport begin het en wat di re'els noukeurig gefolg het.
Uit: Ons Klyntji – 1897



Met die volgende verhaaltjie wens ons al ons lede'n geseënde, vredevolle Kerstyd en 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

Kersfees se kenwysie - I.L. de Villiers

Oor die geskiedenis van "Stille nag" word heelwat anekdotes vertel. Kersaand 1818 het twee vriende, Josef Mohr (priester van Oberndorf in die Tirool) en die orrelis Franz Gruber, hulle vir die middernagdiens voorberei toe hulle agterkom muise het die binnewerk van die orrel stukkend geknaag. Die diens sou sonder musiek moes voortgaan.

Sommige vertel dat Gruber van teleurstelling sy kitaar gegryp en sommer 'n wysie begin tokkel het, kwansuis 'n slaapliedjie om hul gemoedere te kalmeer. Skielik het Mohr opgespring en soos Archimedes van ouds uitgeroep: "Ek het dit!" en binne 'n halfuur die woorde van "Stille nag" neergeskryf.

Die middernagdiens het, kitaar en al, voortgegaan, en die gemeente het "Stille nag" gesing dat dit dreun. Kersfees se kenwysie is gebore.

Vandag staan dit bekend as die lied wat selfs die kanonne van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 kon stilmaak.

Die Duitsers het 'n boodskap oor die niemandsland na die Engelse linies gestuur met 'n uitnodiging om saam met hulle Kersliedere te sing. 'n Sekere manskap, David Hutchings van die regiment Hampshire, het uit die loopgrawe geklim en die boodskapper tegemoet geloop.

Wat was Hutchings se verbasing groot toe hy agterkom die Duitser was Engels magtig; hy het tevore in Glasgow as kroegman gewerk. Terwyl hulle gesels het, het ander soldate ook uit die loopgrawe geklim en hulle by die twee manne aangesluit.

"Stille nag" is gesing en die trane het glo vryelik gevloei. Daar is ooreengekom op 'n skietstaking van 'n week. Aan die einde van die sewe dae het die Duitsers laat weet dat die geveg moes voortgaan, maar dat hulle eerste kanonskote aspris te hoog sou wees. Die Britse bevelvoerder het die boodskapper met 'n doos Engelse sjokolade na sy linies teruggestuur.

Uittreksel uit: Vrede op Aarde, 'n Kersboek byeengebring deur Linda Rode


Algemene Inligting

Banghoekweg 115, Stellenbosch 7600
Telefoon: 021 8083745  Faks 021 8871999  E-pos: vvafr@mweb.co.za
Posbus 3256, Matieland, 7602  Web: http://www.vriende.za.net/
Bankrekeningnommer: 1071 318 578 Takkode: 107 – 110  Nedbank, Stellenbosch