Nuusbrief van die Vriende van Afrikaans



Jaargang 7, Nommer 4, Augustus 2002   Posbus 3256, MATIELAND 7602

Tel. 021 808-3745, 808-3744             Faks 021 887-1999         E-pos

Opgestel deur Ria Barnard en Amanda de Stadler

GEEN KOPIEREG VOORBEHOU NIE. KOPIEER EN VERSPREI VRYLIK!

Kantoornuus:

1. Ons eie grondwet

Soos u almal seker reeds weet, moet alle nie-regeringsorganisasies volgens wet nou geregistreer word. Dit hou onder andere in dat hulle elkeen ‘n eie grondwet moet hê. Die Vriende se grondwet is pas voltooi en ons hoop om binnekort as ‘n Artikel-21 maatskappy geregistreer te word. Ons is ‘n sogenaamde weldaadsorganisasie wat van belasting vrygestel is omdat ons inkomste uit donasies bestaan.
Op die Spitsraadvergadering van 2 Augustus 2002 is die volgende veranderinge bekendgemaak:
Die huidige Spitsraad staan voortaan as die Ledevergadering bekend. Almal wat die welsyn van Afrikaans op die hart dra, kan hierdie vergadering bywoon, maar slegs ingeskrewe lede wat deur hulle takke afgevaardig is, het stemreg. Die Dagbestuur word nou die Spitsraad genoem.
Ons volgende Ledevergadering word gehou op Vrydag 1 November 2002 om 9:00 te Banghoekweg 115, Stellenbosch. Laat weet asseblief die kantoor voor 25 Oktober 2002 as u die vergadering wil bywoon.

2. Befondsing

Ons fondsinsameling vorder. Baie dankie aan almal wat reeds bygedra het om ons R2 miljoen-doelwit te probeer bereik. Wat ook oorweeg kan word, is ‘n erflating aan die VVA. Langenhoven sou gesê het dat jy dit dán nie meer sal kan voel nie!

3. Boekeskenkings

Die kantoor verwelkom besoekers en is elke weeksdag oop van 8:00 tot 14:00. Ons is in die proses om rakke te bou vir ‘n wonderlike boekeskenking wat ons ontvang het. Van die boeke sal gebruik word vir boekpryse en ander sal te koop aangebied word. Ook hier kan u aan ons dink as u boeke het wat vir ander mense van waarde kan wees maar waarvan u om een of ander rede afstand moet doen.

4. VVA-taalaksie

Ons wil graag nog baie briefskrywers op ons taalaksielys hê. Ons het reeds vrywilligers uit onder andere Durban, Sannieshof, Pretoria, Bloemfontein, Jeffreysbaai, Saldanha, Kriel, Vryheid, Claremont en Heidelberg. Stuur asb. u volle besonderhede (veral e-posnommers) aan ons as u deel wil wees van hierdie aksie.
 
KAPENAARS VIES OOR AL DIE ENGELS ORAL

Dit is die opskrif van ‘n berig in Die Burger van Saterdag, 24 Augustus. Kapenaars is woedend oor straatname soos Muisvoël Street en Rooivalk Crescent en die brandweerstasie in Durbanville met net ‘n Engelse naambord, Firestation.
Mnr. Henk Lourens, hoofargitek van die nuwe stadsraadkompleks in Durbanville sê onder andere: “Die gevoel was ook dat, hoewel Engels een van die amptelike tale is, dit soort van aanvaar (sic) is dat dit die taal is wat deur elke taalgroep aanvaar word.”
Toe mnr. Adriaan van Niekerk, NNP-taalombudsman ‘n R1000 aan die brandweerbestuur  wou gaan oorhandig vir ‘n Afrikaanse kennisgewing, hoor hy: dankie vir u welwillendheid, maar ons het die geld gekry om self ‘n nuwe naambord aan te bring. Verskeie ander lesers het ook per e-pos en telefoon geld vir hierdie doel aangebied. Nou word daar tereg gevra: Waar kom die geld nou so skielik vandaan? Dit wil voorkom of die taalbepalings van die Wes-Kaapse grondwet na goeddunke deur amptenare geïgnoreer of toegepas word.

In dieselfde trant is die Vriende van Afrikaans besig met ‘n veldtog teen die Parkeraad omdat die kennisgewingborde op Tafelberg net in Engels, isiXhosa, Chinees en Japannees is. Die VVA-kantoor op Stellenbosch het briewe aan ongeveer 20 ampsdraers en ander belanghebbendes gestuur hieroor en wag nog op amptelike reaksie.

US SE NUWE TAALSENTRUM
Hierdie sentrum is die uitvloeisel van die bestuur van die Universiteit se eerste stap in die rigting van ‘n verantwoordbare taalbedeling. Die Taalsentrum sal moet voorsien in ‘n verskeidenheid behoeftes van personeel en studente, met die hantering van verskillende tale binne ‘n meertalige konteks. Om aan hierdie ideaal uitvoering te gee, sal die Taalsentrum verskillende taalverwerwingskususse en slypskole vir verskillende doelgroepe (waaronder dosente en studente) aanbied. Hierdie verantwoordelikheid sal gesetel wees in drie eenhede binne die Taalsentrum, naamlik die Eenhede vir Afrikaans, Engels en isiXhosa.
Die Skryflaboratorium gaan voort met die skryfvaardigheidsopleiding van studente  terwyl die slypskole vir korporatiewe skrywers, taalpraktisyns en joernaliste voortgesit word deur die Eenheid vir Dokumentontwerp.
Die Taalsentrum se webadres is: http://www.sun.ac.za/taalsentrum

 ‘N TRANSVAAL IN RUSLAND?
(Wienand Combrink laat weet)

As die temperatuur hier by 30? begin trek, is daar min dinge so lekker as om in die water te spring om af te koel. Vind jy die Moskourivier te oninspirerend en die land se ander mere en poele te ver weg, kan jy koers kies na die hoofstad se suid-westelike distrik, Yasenevo. Daar vind jy die Transvaal Park, Moskou se heel eerste binneshuise waterpark.

Die Transvaal beslaan 20,000 vierkante meter en word geadverteer as “ ‘n see van vermaak ”. Sowat 1.7 miljoen liter water word gepomp deur ‘n stelsel van swembaddens, waterglybane en poele en “maak die kind in elkeen wakker”. Daar is berge van vyf verdiepings hoog waarteen jy kan opklim en weer afgly; jy kan dit waag op ‘n ontembare rivier in ‘n rubberboot tot in die duisternis van ‘n Swart Gat en jy kan branders van vier meter hoog met jou plank aandurf.

Vanwaar die naam, Transvaal? Hierdie park wat op 23 Junie geopen het, kry sy naam van die Suid-Afrikaanse “streek”, Transvaal, wat in Rusland geassosieer word met ’n hele wêreld in een land”, “kimberliet-are, goud en ‘n wonderlike klimaat”. Die park se bestuurder, Roman Malinovsky, sê die naam pas by die konsep van “ ‘n hele wêreld in een park”.

So, Gautengers, stoot uit julle borse.......................daar is mense in die wêreld wat julle julle provinsie beny!
(The Moscow Times.com)
 

PROF. PIET PAARDEKOPER UIT NEDERLAND:
Die ware Jan
'n Hollandse taalman het tydens 'n besoek aan Suid-Afrika die jakkals tussen die hoenders gegooi toe hy tydens 'n lesing by die Huis der Nederlanden in Kaapstad, gesê het Jan van Riebeeck was g'n imperialis, kolonialis en apartheidskepper nie; trouens, Piet Paardekooper glo Suid-Afrika kon vir geen groter Vader des Vaderlands gewens nie - en dit geld ook sy taal, wat Afrikaans laat ontstaan het.
In 'n brief uit Leiden verdedig hy sy standpunt: Jan van Riebeeck het die slagoffer geword van een van die ergste dwalinge in Suid-Afrika. Schrik niet: Hy word tans beskou as 'n imperialis en kolonialis wat apartheid begin het! Ek het eintlik gedink dat hierdie etikette perfek pas by die rooftogte van die Engelse wat 'n eeu gelede goud en diamante kom steel, op groot skaal Afrikaners vermoor en onskuldige vroue en kinders in konsentrasiekampe laat verhonger het. Ek het ook gedink dat húlle apartheid begin het.
Misdade soos hierdie behoort 'n konsekwente regering te laat oorgaan tot 'n taaloorlog teen Engels, wat eintlik in Suid-Afrika 'n antidemokratiese oorheersende posisie geniet wat alle regsgronde oorskry; die aantal Engelse moedertaalsprekers is immer maar helfte van die aantal Afrikaanssprekendes. Vir egte demokrate behoort die meerderheid ook hier bepalend te wees; die leidende taal in Suid-Afrika behoort dus (afgesien van Zoeloe) Afrikaans te wees.
Die etikette (imperialis, kolonialis, apartheidsman) pas hoegenaamd nie by Van Riebeeck nie. Wie en wat was Van Riebeeck?
Die Here XVII stuur hom in 1651 na Suid-Afrika om 'n verversingspos vir siek en sterwende seelui te vestig, om (sonder geweld) beeste en skape van die veetelers te koop, om niks van hulle af te neem nie, maar in vrede met hulle saam te leef, en om tuine uit te lê en groente te kweek om skeurbuik en buikloop te help voorkom.
Van Riebeeck het dikwels gebruik gemaak van die dienste van 'n uitgeslape Khoi-tolk, Herrie, wat Engels kon praat en hom goed daarvoor laat betaal het. Slegs ná twee ernstige misdrywe was die kommandeur in so 'n mate ontstel dat hy Herrie na Robbeneiland verban het. (Hy het later ontsnap.)
Enigiemand wat Van Riebeeck se Daghregister aandagtig lees, kan slegs tot die gevolgtrekking kom dat Suid-Afrika vir geen groter "Vader des Vaderlands" kon gewens het nie. Sy optrede regverdig in alle opsigte dat daar aan hom dankbaarheid en eerbied bewys word. Dit geld ook sy taal wat Afrikaans laat ontstaan het.
Die oorlog wat die regering genadeloos teen die taal voer, is 'n skande. Dit is 'n vorm van ondankbaarheid teenoor die stigter, maar ook teenoor Nederlanders. Geen ander land het die ANC in die gruwelike dae van apartheid op finansiële, logistieke en veral morele gebied so intens gesteun as Nederland nie. Is dit nie onverstaanbaar dat mense wat so onder rassediskriminasie gely het, nou taaldiskriminasie toepas nie?
Bowendien dien die oorlog teen Afrikaans geen enkele positiewe doel nie; dit is net nadelig vir versoening tussen alle Suid-Afrikaanse groepe. Suid-Afrika is weliswaar die magtigste en mees stabiele staat suid van die ewenaar, maar het nog groot probleme. Die oplossings daarvoor vereis dat alle taal- en rassegroepe saamwerk.
Versoening pleks van 'n sinlose oorlog is onlangs nog deur Mandela beklemtoon en bepleit in sy belangrike toespraak by die Voortrekkermonument. Sy wysheid vind ons terug by P.N. van Eyck, waarvan ek vier reëls aanhaal:
 Daar is - hoe zwaar het griefde -
 Slechts één macht tegen 't kwaad:
 "Zegen mijn hart met liefde
 En houd mij vrij van haat."
 
IS DIT HOE NUWE VOORTREKKERS NA SUID-AFRIKA VERLANG?
(Fanus Rautenbach)
 
Jy is my drie eende, my kameel in die sand
Jy my Tretchi, my Kaapse Waterkant
Jy is my Cremora, my Koffiehuis voorwaar
Jy is Mbeki, my groot vigs-gevaar
Jy is my pap, my afval en my wors
Jy is die Kasteel  en die Witblits vir my dors
Jy is my tjoppie, my bobotie en melktert
Jy is my saal en my toom en my perd
Jy is my samoosa, my vetkoek, my snoek

Jy is die vulsel van my pannekoek
Die lys is nog lank en dis nie al nie
Want is jy nie my Lotto en my rugbybal nie?
Jy is my wildplaas, my dop en my dam
Jy is my koei en my ooi en my lam
Jy is my dagga, my 4x4, die ou bielie
Jy is die botter op my vuurwarm mielie
Jy is my Blondie, en ek vra jou nou
Wees die sous op my slap tjips en word tog my vrou?

 
TAALWENKE
(Uit Taalmanak 2001, redakteur Leon van den Berg)

Afrikaans: Daar is gevra of dit op of in Afrikaans/Engels is. Spies en Combrink (SARA) sê: “in Engels is die gewone, op Engels is ‘n Nederlandisme wat baie veld gewen het, maar onnodig is.”

baiekeer: Soos baiemaal, partykeer en partymaal een woord. Maar baie kere/male en party kere/male is twee woorde.

belt: Volgens Prinsloo en Odendaal (Afrikaans op sy beste) is die gebruiksfrekwensie van belt, beltjie en belde so hoog dat dit as standaard beskou moet word. In informele programme van die SAUK word belt aanvaar. Dié direkte ontlening aan Engels kom egter in geen woordeboek of die AWS voor nie. Vermy “belt” liewer in versorgde taal en gebruik gordel of lyfband. Streng genome moet dit “beld” wees, want die meervoud is “belde”.

jappie: Die Engelse yuppy is afgelei van young upcoming professional person. In Afrikaans is dit jappie, wat staan vir jong, ambisieuse, professionele persoon.

‘N VOORSMAKIE UIT DIE TERMINOLOGIEWOORDEBOEK......
hacker – kuberkraker
cybersquatter – kuberplakker
backspace key – trusleutel
accelerator key – snelsleutel (alternatief: versnelsleutel)

Paul Oosters skryf uit België: “Via deze weg wil ik mijn steun en waardering uitspreken, voor de belangrijke taak u met uw organisatie wil bewerkstelligen, inzonderheid het behoud van het Afrikaans als rijke kultuurtaal in Suid-Afrika en stamverwant met onze taal in Vlaanderen en Nederland. Ook in België weten wij Vlamingen wat het was en nog steeds is om uw eigenheid te verdedigen. Ik wens u nog veel sterkte toe en vooral de kracht om vol te houden. Weet dat wij Vlamingen Suid-Afrika steeds een warm hart hebben toegedragen.”
 
Veld toe met Afrikaans

Eerste Afrikaanse buitelewe-tydskrif

In Rapport van 16 Junie 2002 is bekend gemaak dat VELD TOE, sustertydskrif van INSIG, pas uitgereik is.
Dit word deur New Media Publishing uitgegee namens Media24-Tydskrifte onder redaksie van Francois Rabe, ‘n gewese motorredakteur van Die  Burger. Hy word bygestaan deur ‘n bekwame span medewerkers, almal spesialiste op hul onderskeie gebiede.
“Die gewildheid van INSIG se buitelewe-artikels en die verstommende groei van die tydskrif se 4X4-klub vir lesers was vir ons ‘n duidelike aanduiding dat die tyd ryp was om ‘n nistydskrif met gehalte-leesstof oor vryetydsbesteding in die buitelug vir Afrikaanse lesers beskikbaar te stel, ”het Rabe gesê.
VELD TOE se lesersprofiel is, soos met INSIG, gerig op lesers in die ouderdomsgroep 35 tot 49 jaar en meningsvormers in die A- en B-inkomstegroep wat een of meer motors besit. Dit is lesers wat hard werk en maniere soek om hul vrye tyd sinvol te bestee en saam met hul gesinne deur te bring. Die groeiende belangstelling in tydverdrywe soos natuurfotografie, voetslaan en buitelug-sportsoorte, saam met die behoefte om tyd in die natuur deur te bring, is ‘n uitvloeisel van die gejaagde lewe.
In die debuut-uitgawe word die ervarings van onderwaterduik bespreek in die artikel Die hemel is van water met riglyne oor hoe om dié wonderwêreld aan te pak. Vir diegene wat hoër hoogtes wil bereik, gee Mark Johnston se artikel Avontuur bereik nuwe hoogtes ‘n mens moed vir rotsklim. Onderwerpe soos branderroei, eko-avontuursport en nuttige stap-vir-stap-wenke vir daardie volmaakte natuurfoto word ook bespreek.
Lesers word bekend gestel aan pragtige roetes soos die Hoogland-kronkelroete in Mpumalanga en die Wieg van die Mensdom-erfenisgebied wat onlangs tot ‘n wêreld-erfenisgebied verklaar is.
Die land se beste 4X4-roetes word breedvoerig bespreek met inligting soos tariewe, verblyf, geriewe, roetebeskrywings met kleurfoto’s.
Die volgende uitgawe van VELD TOE verskyn op 10 November 2002. Die rakprys is R19,50.
Beoogde historiese dagboek
Die Departement Geskiedenis van die US het aan die VVA ‘n voorlegging gedoen om ‘n historiese dagboek saam te stel onder redaksie van dr. Chris Venter. Die inhoud gaan bestaan uit kort dagstukkies oor gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met spesiale verwysing na die Afrikaner en sy taal. Hierdie dagstukkies sal ongeveer 100 woorde per inskrywing wees, wat ook ‘n kort evaluering sal insluit om die betrokke dagstuk se belangrikheid aan te dui.
Onderwerpe vir die dagstukkies kan die volgende insluit: die invloed en bydrae van belangrike Suid-Afrikaanse persone op die geskiedenis van die Afrikaner; geboorte- en sterftedatums van belangrike Afrikaanse persoonlikhede; belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese, kulturele en militêre geskiedenis, met spesiale verwysing na die stryd om en die handhawing van Afrikaans.
Die teikenmark is alle Suid-Afrikaners, volwassenes en kinders, in Suid-Afrika of die buiteland, wat Afrikaans as moedertaal het of dit as tweede taal magtig is.
Die titel wat oorweeg word, is Sodat ons nooit vergeet nie.
 
Soetliefprys

Dankie vir u voorstelle vir ‘n naam vir die prys wat ons wil toeken aan persone/instansies wat Afrikaans ter wille is. Leon van den Berg (Taalredakteur van Beeld) se voorstel, die Soetliefprys, is die gunsteling. Baie dankie, Leon!

Die firma wat hierdie uitgawe se Soetliefprys verdien, is Agricol Saad (Edms) Bpk. Mev. Sarie le Roux het dit onder ons aandag gebring dat die maatskappy al jare hulle kliënte in keurige Afrikaans (en Engels indien verkies) bedien ondanks die feit dat hulle in die in- en uitvoermark betrokke is. Hulle gaan uit hulle pad om die gebruik van Afrikaans en Engels nie af te skaal nie.

Die indiwidu aan wie die Soetliefprys toegeken word is mev. Nooi Pretorius van Harrismith. Sy is ‘n sprekende bewys van hoe elke Afrikaanssprekende sy deeltjie vir sy taal behoort te doen. Toe sy ‘n Engelse vorm van die Departement Waterwese ontvang, het sy dit laat vertaal, die vorm ingevul en aan hulle teruggepos. Toe sy ‘n Engelse vorm van Eskom ontvang, het sy met groot moeite gesoek vir die Afrikaanse weergawe. Hou so aan, mev. Pretorius!

Taknuus

Op die oomblik het die VVA 17 takke landwyd. Baie dankie vir al die moeite wat in verskillende takke en skole gedoen is vir die pasafgelope Afrikaans-week. Dit het groot byval gevind en ons taal laat klink!

U sal binnekort die Stellenbosch-tak se e-nuusbrief op ons webwerf kan lees. As daar ander takke is wat hierdie voorbeeld wil volg, kontak ons gerus.

Ons hoop ons voorsitter, dr. Louise Combrink, kuier baie lekker by haar kinders in Moskou. Sy behoort teen die begin van Oktober terug te wees in Suid-Afrika.
 

Doendinge is 'n projek van die Vriende van Afrikaans



Algemene Inligting
Banghoekweg 115, Stellenbosch 7600
Telefoon: 021 8083745  Faks 021 8871999  E-pos: vvafr@mweb.co.za
Posbus 3256, Matieland, 7602  Web: http://www.vriende.za.net/
Bankrekeningnommer: 1071 318 578 Takkode: 107 - 110  Nedbank, Stellenbosch