Opgestel deur Boudewijn de Vries in samewerking met Gideon Joubert, Louise Combrink en Ena Engelbrecht
Hierdie uitgawe word geborg deur Het Jan Marais Nationale Fonds
GEEN KOPIEREG VOORBEHOU NIE. KOPIEER EN VERSPREI VRYLIK!
Op die Keper
Die grondwet maak voorsiening vir elke provinsie sy eie taalbeleid op te stel. Die Wes-Kaap se beleid is onlangs goedgekeur. Professor Isabel Cilliers, voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, is verheug dat na twee jaar se harde werk daardie provinsie op hierdie wyse hul verbintenis tot veeltaligheid kan bevestig. Hiervolgens kan die mense van die Wes-Kaap by amptelike instansies aandring op die gebruik van die amptelike taal van hul keuse – Afrikaans, Xhosa of Engels. ‘n Afskrif van die taalbeleid kan verkry word by exa@pawc.wcape.gov.za of telefonies (021) 4240410.
Uit die Kantoor
Ena Engelbrecht het om sakeredes ons geledere verlaat. Ons wens haar voorspoed toe met haar onderneming en bedank haar vir haar besonderse bydrae van die afgelope twee jaar. Haar plaasvervanger is Ria Barnard, oud-onderwyseres, dosent, uitgewer en iemand met ‘n passie vir Afrikaans.
Gideon Joubert het in Desember tydens ‘n ‘vier-by-vier’- uitstappie in die Sederberge geval en hom ernstig beseer. Hy sterk tuis aan en dit gaan nou weer veel beter .
Ledewerwing
Baie dankie aan almal wat reageer het. Ons sluit weer ledegeldvormpies in. As u reeds betaal het, gee asseblief aan ‘n belangstellende. Ons posstelsel sluit tans nog reeds-betaaldes in. Vergewe asseblief die administratiewe gebrek!
Taknuus
Richard Jute is as voorsitter op Jeffreysbaai herkies. Baie geluk! Hulle het die afgelope jaar R6000 aan skole en die plaaslike biblioteek geskenk ter ondersteuning van Afrikaanse boeke en die Afrikaanse lied.
Projekte
Die Helderberg-tak van van die Vriende het saamgespan met die plaaslike Kultuurraad en ‘n uitstalling in die Biblioteek aangebied. Kotie Conradie het daarvoor gesorg dat die aanbieding van hoogstaande gehalte was.
Tweetalige Dagboeke
Ons onderhandelings met die uitgewers het bewys dat hulle gewillig is om die boeke te druk; dis groepe soos die CNA wat dit nie wil bestel nie! As elke VVA-ondersteuner wat ‘n dagboek benodig daarom vra, en dit jaar na jaar doen, moet ons uiteindelik slaag.
Net ‘n wenk: dis onbillik om die kassiere aan te vat. Kry die persoon in die hande wat vir die aankope verantwoordelik is. Vra dan beleefd, maar ferm, wat u benodig.
Suksesverhale
Lourens Jonker van die wynlandgoed Weltevrede in Bonnievale (http://weltevrede.com) reageer op vele se ongelukkigheid oor Engelstalige wynetikette met die nuus dat hul ‘Oupa se Wyn’ en ‘Ouma se Wyn’ onder andere na België en Nederland uitvoer met uitsluitlik Afrikaanse etikette. Die wyn gaan na ander lande onder die name (glad nie letterlik vertaal nie!) ‘Gold Muscat’ en ‘Cape Muscat’.
Dankie
Die Bankgroep ABSA se internetbankdienste is beskikbaar in Afrikaans. Hul webtuiste is eentalig -- laat vir ons weet of u dit kan help aanspreek.
Vir Kennisname
‘n Hoofartikel in Beeld van 27 November noem dit dat Eskom se verandering van taalbeleid die resultaat was van ‘n dreigende hofsaak. Laat dit vir ons daaraan herinner dat geen saak wat die moeite werd is sonder ‘n stryd gewen word nie! Die Departement van Arbeid lewer ook baie probleme met sy enkel-taalbeleid. By Pansat lê meer as dertig amptelike klagte oor hierdie Staatsdepartement.
Dinge om te doen – Plaaslik

Slegs Engels en Frans verskyn op die Poskantoor se stempel op ‘n brief wat aan ons teruggestuur is! Wat wil ons in hierdie land doen met uitdrukkings soos ‘inconnu a cette adresse’ en ‘pas de distribution par rues’? Is dit dalk ‘n manier om te sê Afrikaans is nie ter sake? Frans is nie een van die 32 tale wat in die Grondwet gemeld word nie. Laat ons dit aan al die posmeesters in die land stel, beide persoonlik en op skrif. Dring aan op ‘n skriftelike antwoord van ‘n senior persoon en stuur dit aan ons vir verdere optrede.
Dinge om te doen - Landswyd
Van Maandag 12 tot Saterdag 17 Augustus word die Afrikaanse Week gevier. Indien daar in u omgewing niks gebeur nie, takel ‘n beskeie projek, soos om ‘n kunstenaar te nooi of Afrikaanse boeke aan die biblioteek te skenk. Sulke inisiatiewe kan uitloop op permanente aksies. Ons kunstefeeste het so beskeie begin en kyk wat het daarvan geword. Die grootste gevaar is waar mense vir andere wag om iets te doen. Indien daar reeds bedrywighede is, skakel die organiseerders en vra of u behulpsaam kan wees. Indien u nie daarvoor kans sien nie, lewer ‘n finansiële bydrae. Doen tog net iets!
Hulle sê
Witold Pokraka uit Pole (effens geredigeer): Ek wens natuurlik die buitelandse belangstelling in Afrikaans was geen mode wat verbygaan. Ek wens dit was ‘n stewige belangstelling wat vir die Afrikaners met hul geveg vir taalregte behulpsaam kon wees. Julle regering sou nie ‘n taal wat buitelandse aandag geniet, so maklik kan onderdruk nie.
Witold korrespondeer met ‘n groot aantal mense en beveel die webwerf Knoop sterk aan!
Andre de Bleser (uit die e-poslys van die Groep van 63): Tot vandag toe het ek nog nie ‘n Frans sprekende Belg ontmoet wat ‘n Vlaming meer haat as ‘n verfranste Vlaming. Die ironie is dat dit in Suid-Afrika dieselfde is. Daar is letterlik duisende Afrikaners wat verengels net om weg te kom van hul Afrikaanse afkoms en dit is hierdie verengelste Afrikaners wat ons grootste teenstanders is.
Meryl Smuts:....Ek dink daar is nie ‘n taal wat so lekker leef soos Afrikaans nie!
Johan Combrink: Geleenthede (dus ook om Afrikaans te bevorder) kom dikwels vermom as harde werk.
Nuutskeppinge
Onlangse navraag na die mees geskikte vertaling vir ‘water feature’ is beantwoord met watervertoonstuk, terwyl ‘manual sprinkler system’ handbeheerde besproeiingsisteem opgelewer het.
Rig gerus u taalnavrae. Ons sal vrae wat ons nie kan beantwoord nie na kundiges verwys.
Tabema
Tabema se navorsing het bewys dat Suid-Afrikaners nie in elf tale hoef te kommunikeer om verstaan te word nie: met die gebruik van vier tale (Afrikaans , Engels, ‘n Nguni-taal soos Xhosa of Zoeloe, en ‘n Sotho-taal) kan jy jou aan 99,8% van die bevolking van Suid-Afrika verstaanbaar maak.
Suid-Afrika se veeltaligheid, soos in die grondwet verwoord, word dikwels misbruik om eentaligheid af te dwing. Soms met die beste bedoelings. Dis ons elkeen se plig om op die mees effektiewe wyse hierdie 11-taledrogredenasie aan die kaak te stel.
Lees meer oor Tabema op hul webwerf deur hier te klik.
Spreuk
Ons verdien ‘n lewe deur wat ons ontvang; ons maak ‘n lewe deur wat ons weggee.

Doendinge is 'n projek van die Vriende van Afrikaans