MEMORANDUM OOR BOEKWINKELS

UNIEKE KLEINSAKEGELEENTHEID!

Afrikaanstaliges kla: Boekwinkels verkoop dikwels net Engelse boeke. As daar hoegenaamd Afrikaanse boeke is, is die keuse beperk. Nou is dit vir enigeen moontlik om sy eie boekwinkeltjie te begin en op die koop toe 'n gesonde wins te maak.

Op kleinerige plekke is volbloed-boekwinkels nie lonend nie, maar enigeen kan nou 'n boekrak met 'n dertigtal Afrikaanse boeke aanhou en hieruit 'n geldjie maak. Boonop word 'n groot diens vir Afrikaans en die Afrikaanse boek gelewer. Die boekrakwinkel kan maklik 'n bestaande onderneming aanvul, bv. 'n boetiek, koffiekroeg, apteek, kruideniers- of klerewinkel. Dit kan in 'n skool of 'n biblioteek kom, of selfs in 'n huis waar 'n kamer met 'n boekrak op sekere dae oopgestel word vir mense wat boeke wil koop. Baie kerkkantore het soortgelyke boekwinkels.

Die risiko en kapitaaluitleg is minimaal omdat net een of twee eksemplare per boek aangehou word. Die publiek word hier genooi om boeke te koop of te bestel. 'n Boek is 'n ideale geskenk of skoolprys. Leeskringe, biblioteke en skole kan hul bestellings hier plaas.

Veral op plattelandse dorpe of in voorstede met min of geen boekwinkels nie, sal boekrakwinkeltjies gewild wees, maar dit kan ook in 'n stadsgebied kom, al sou daar reeds ander boekwinkels bestaan. Enigeen, selfs skoolkinders, huisvroue of kerke, kan hul eie boekrakwinkeltjies begin. Op elke boek wat verkoop word, is daar 'n wins van minstens dertig persent wat normaalweg 43 persent op die kapitaaluitleg bedra.

Die Vriende van Afrikaans het met Nasionale Boekwinkels Beperk ooreengekom dat boeke van die uitgewers Tafelberg, Human & Rousseau, Quellerie, Kwela of J.L. van Schaik op hierdie wyse bemark mag word. Nasionale Boekwinkels reik ook van tyd tot tyd lyste uit van winskoopboeke wat teen 35c tot R25 aangebied word. Reël 'n boekefees!

Skryf aan mnre. Frikkie Nel of Joop Coetzee van Nasionale Boekhandel by Posbus 487, Bellville, 7537. Of bel hulle by tel. (021) 918 8610 of 918 8500 of stuur 'n faks na (021) 918 8500.

Baie belangrik: Noem dat u deur die Vriende van Afrikaans werk, dan kom u sonder moeite vir die boekrakwinkelskema in aanmerking.

Ons het ook 'n ooreenkoms aangegaan met die NG Kerk-uitgewers se Lux Verbi. Dieselfde voorwaardes geld as by Nasionale Boekwinkels, met ander woorde daar is 'n 30 persent korting op alle boeke. Tree in verbinding met mev. Maryna Volschenk. Haar telefoonnommer is (021) 421 5540. Faks (021) 419 3484. Die adres is: Posbus 1822, Kaapstad, 8000.

Belangrik: Meld dat u deur die Vriende van Afrikaans werk.

Navrae: Boudewijn de Vries, direkteur van die Vriende van Afrikaans (tel. 021 808 3745, faks 021 887 1999, sel 072 282 9959).

Laat asseblief weet hoe u vorder en of u probleme ondervind. Hou ons ook op hoogte van hoe u vaar. Ons help graag!

Die welslae van enige bemarkingsveldtog is gefundeer op goeie bemarking. Tree in verbinding met skole en biblioteke wat die boeke deur u kan bestel. Sorg dat mense weet dat 'n goeie boek 'n ideale geskenk is. Is daar 'n VLV-tak of leeskring naby u? Hulle kan mos al hul boeke by u bestel.

Stig 'n tak van die Vriende van Afrikaans. Dié organisasie, wat daarop ingestel is om Afrikaans te dien, kan dit as een van sy take stel om die Afrikaanse boek te bevorder deur byvoorbeeld Afrikaanse boekpryse by skole (veral by agtergeblewe gemeenskappe) te borg.

Mense wil graag 'n boek sien en daardeur blaai voordat hulle dit koop. Vertooneksemplare is noodsaaklik, maar pamflette ook, veral van boeke wat u nie in voorraad het nie. Sorg dat mnr. Joop Coetzee vir u pamflette stuur. Onderhandel ook met hom oor hoe boeke wat bestel word, by u besorg kan word. Nasionale Boekwinkels het op baie plekke 'n afleweringsdiens.

Sterkte met u nuwe onderneming. Die Vriende van Afrikaans is net 'n fasiliteerder vir die bevordering van die Afrikaanse boek. Hou ons asseblief op hoogte van u vordering!

BOUDEWIJN DE VRIES
Direkteur, Vriende van Afrikaans
Banghoekweg 115
STELLENBOSCH
7160

Tel. (021) 808 3745

Faks (021) 887 1999

Sel 072 282 9959