VRIENDE VAN
AFRIKAANS
Afrikaans - die vriendelike taal


Nuwe boek: Afrikaans, lewende taal van miljoene: klik hier

WIE IS DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS?

DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS beywer hulle daarvoor om Afrikaans in ons woon- en werkplekke tot sy reg te laat kom, en die geleidelike afskaling van die gebruik daarvan in die openbare en korporatiewe wêreld aktief teen te werk.

Die Vriende is 'n onverbonde groep mense: nie-polities, nie-seksisties, nie-rassisties en nie-godsdiensvoorskriftelik. Ons is nie teen enige taal nie, maar ons is pront, onbeskaamd, onverskonend pro-Afrikaans. Ons voer hierdie aksie sonder enige vergoeding.
 

Foto geneem tydens die jaarvergadering wat op 20 Junie 2003 in Stellenbosch gehou was, 
en toon 'n deel van die aanwesiges.

Ontstaan en vordering daarna

Die Vriende van Afrikaans het op 8 Februarie 1994 op Stellenbosch tot stand gekom. ‘n Klein groepie Afrikaanssprekendes het saam besin en hulle diepe kommer uitgespreek oor die wyse waarop Afrikaans by die venster uitgegooi word, nie net deur die owerheid nie, maar ook deur verenigings en sakeondernemings. (Talle van hierdie sakeondernemings behoort aan Afrikaanstaliges wat skynbaar onder die valse indruk verkeer dat dit tot hulle onderneming se voordeel strek om dit in Engels te bedryf.)

Onder die groepie beswaardes was prof. Johan Combrink, voorste taalkundige in die land en ‘n vurige kampvegter vir Afrikaans. Hy was ‘n uitmuntende spreker en het die saak vir Afrikaans op treffende wyse tuisgebring. Uitnodigings om groepe Afrikaanssprekendes toe te spreek het ingestroom van oral in die land.

Hy het gewoonlik van die geleentheid gebruik gemaak om daar en dan ‘n tak van die VVA in die lewe te roep. So is daar op ‘n groot aantal Bolandse dorpe, maar ook op ander plekke, takke van die VVA gestig.
Ten spyte van ernstige gesondheidsprobleme het Johan Combrink onvermoeid voortgegaan met die groot taak om ywer en geesdrif vir ons taal by ons mense wakker te maak. Sy dood op 25 Julie 1999 was vir ons ‘n geweldige slag.

Onder sy aanvoering is die hoofkantoor van die VVA op Stellenbosch gevestig. Vanuit dié kantoor het hy die werk van die talle takke wat tot stand gekom het, gekoördineer en hulle gereeld van toepaslike leesstof voorsien, die meeste waarvan hy self voorberei het.

Johan Combrink is nie meer daar nie, maar die werk van die VVA waaraan hy die laaste jare van sy lewe met oorgawe gewy het, moes voortgaan. Sy vrou, dr. Louise Combrink, is tans die nasionale voorsitter van die VVA. Haar akademiese agtergrond as senior dosent in die Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch maak haar ideaal geskik om die leiding te neem en sy doen dit met groot toewyding en waardigheid. Mnr. Gideon Joubert is die nasionale koördineerder en die spitsraad bestaan verder uit mnre. Nolte Smit en Willem Dempsey  en mee. Phia van der Westhuizen en Amanda de Stadler.

Die VVA is tans in die proses om as ‘n Artikel 21-organisasie geregistreer te word. Ons het dus ons eie grondwet en staan bekend as ‘n weldaadsorganisasie. Ons Ledevergadering kom minstens vier keer per jaar byeen. Die kantoor is in die gebou van die WAT in Banghoekweg 115 en word beman deur mev. Amanda de Stadler as uitvoerende beampte.

Mev. De Stadler het as onderwyseres, redigeerder en vertaler, wye ervaring op die gebied van Afrikaans opgedoen. Sy was ook medewerker met die opstel van die Groot Tesourus van Afrikaans. Haar taak by die VVA is tweeledig: sy behartig al die administratiewe take en verteenwoordig ook die VVA by vergaderings en aksies waar daar oor Afrikaans beraadslaag word en besluite geneem word. Sy is ook verantwoordelik vir die Doendinge, die VVA se nuusbrief wat ses keer per jaar verskyn.


ONS LEUSE: Afrikaans ons erns.

DIE VRIENDE  VAN AFRIKAANS BEYWER HULLE DAARVOOR:

  • Om Afrikaanssprekendes te oorreed om oral in Suid-Afrika met almal Afrikaans te praat en om vreemdelinge  altyd eerste in Afrikaans aan te spreek. Dit sluit in gesprekke by winkels, poskantore, staatsdepartemente, statutêre liggame, verenigings, en oral waar daar met die publiek in aanraking gekom word. Hierdie doelstelling van "praat Afrikaans eerste" sluit ook telefoonbeantwoording, antwoordmasjiengebruik en fakse in.
  • Om tuis en in gesprekke altyd suiwer en korrekte Afrikaans te praat en om 'n taaltrots by onsself, ons gesinne (veral by ons kinders ) en by vriende aan te kweek.
  • Om Afrikaanssprekendes te oorreed om Afrikaanse boeke en tydskrifte te koop en te lees. Dieselfde geld vir Afrikaanse musiekkassette, CD's en video's.

  • Om 'n kleinsakegeleentheid te bevorder deur die stigting van Boekrakwinkels, waardeur Afrikaanse boeke op kleiner skaal (veral in die platteland en in kleiner gemeenskappe) beskikbaar gestel kan word in 'n bestaande onderneming, bv.  'n boetiek, koffiekroeg, apteek, kruideniers- of klerewinkel. Lees hier meer oor dié projek van die Vriende van Afrikaans.
  • Om Afrikaanssprekendes aan te moedig om Afrikaanse klasse te reël waar die lees en skryf  van die taal aan ongeletterde Afrikaanssprekendes, en ook nie-Afrikaans-sprekendes geleer word.
  • Geletterdheid en Afrikaans kan met die hulp van die Stigting vir Afrikaans aangepak word. Skakel met ons hieroor.
  • Om Afrikaanssprekendes aan te moedig en te inspireer om op enige praktiese wyse by te dra  tot die onderskraging van agtergeblewenes, liefs in Afrikaans.
  • Om programme te reël wat die gebruik van en die trots op Afrikaans by jeugdiges, leerlinge en studente sal aanmoedig.
  • Om firmas en produkte wat Afrikaans erken te ondersteun.
'n Uitstekende boekie wat elkeen sal help om sy taal suiwerder te praat en te skryf, is: Sakboek van Regte Afrikaans, deur Spies en Combrink. Dit kan bestel word by Die Boeksentrum, Posbus 5496, Kaapstad 8000. Tel. (021) 406 2118. Faks (021) 406 2957. Dit kos R54,95.

  Nuwe boek: Afrikaans, lewende taal van miljoene
 

Afrikaans: lewende taal van miljoene 

Redakteur: Prof F.I.J. van Rensburg 
Van Schaik Uitgewers http://www.vanschaiknet.com

Die behoefte aan 'n publikasie soos die het voortgespruit uit 'n besef van die omvang van die inkrimping van Afrikaans se gebruiksfeer oor die afgelope dekade. Dis op sy duidelikste sigbaar op die openbare terrein: in die sfere van die onderwys, die uitsaaiwese, die reklamewese, die regswese, die navorsingsektor, die werkplek, maar nie minder nie op die private terrein, tot aan die alledaagse interpersoonlike gesprek. Die mooi taalriglyne van die Grondwet het geblyk niks minder to wees nie as blote letters op papier. Dit is in omstandighede soos die - die afskaling van 'n taal wat byvoorbeeld oor sewe dekades heen sy geskiktheid as amptelike taal bewys het - dat 'n selfrespekterende taalgemeenskap daartoe gedwing word om iets to doen wat by nie graag doen nie, en dit is om sy bates op die tafel to sit, nie met die oog op 'n spog-orgie nie, maar om in alle nugterheid die aandag te vestig op wat 'n land kan verloor as so 'n afskaling gekondoneer of gedwee aanvaar word.

Wat in die bundel byeengebring is, is die werk van drie-en-twintig bydraers, elkeen 'n kenner op die terrein wat by of sy vir hul rekening gehad het. Ten spyte van die uiteenlopendheid van die sektore waarop hul ondersoeke gerig was, ontmoet almal in een kern: 'n korpus van waardes en insigte wat in Afrikaans tot stand gekom het en wat tot beskikking van die land as 'n geheel is. In die besonder geld dit taalgemeenskappe wat hierin 'n voorbeeld beskikbaar het van hoe 'n gemarginaliseerde taal deur sy gebruikersgemeenskap omskep kan word van 'n laefunksietaal tot 'n omvattende kultuurtaal, een wat to alle tye konkrete hulp kan verleen as dit verlang word. 
Die projek wat in die boek sy neerslag gevind het, is aangevoor deur die Vrydaggroep, 'n landswye studiegroep wat hulle toele op studies in verband met Afrikaans in sy veeltalige opset. Die redakteur, vroeër verbonde aan die RAU, was die projekleier. 
Die titel van die publikasie is ontleen aan 'n hoofartikel in die London Times van 29 April 1994, twee dae na die aardverskuiwende verkiesing, onder die Afrikaanse opskrif "Reg vir die toekoms."  Na Afrikaans is verwys as "lewende taal van miljoene".
"Afrikaans, Lewende taal van miljoene" kos R89-50 (plus R30-00 vir posgeld en verpakking) en kan bestel word van: 
On the Dot Verspreiding 
Posbus 487 
BELLVILLE 7535 

Faks: (021)951 4903 
Tolvry: 0800 220 224 
Navrae: Cathleen Cloete, Tel: (021)918 8584, faks: (021)951 4903, 
e-pos: ccloete@naspers.com 

Bankbesonderhede:
   ABSA Bank, Takno:  334910, Rekeningnommer: 1450 153 644 

STIG ASSEBLIEF 'N TAK VAN DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS IN U OMGEWING, OF WORD SELF 'N LID.

Klik hiervir die aansoekvorm in .html formaat
Klik hier vir die aansoekvorm in .doc formaat


KONTAKADRES

Skryf aan ons per land- of e-pos, of faks, of skakel. Een van ons sal selfs probeer om 'n stigtingsvergadering by te woon. Volle besonderhede oor die stigting van 'n tak van die Vriende van Afrikaans is hier beskikbaar.

Nasionale Voorsitter van die Vriende van Afrikaans: Dr. Louise Combrink
Nasionale Koördineerder: Gideon Joubert
Uitvoerende Beampte: Me Amanda de Stadler, E-pos:  vvafr@sun.ac.za
Posadres: Vriende van Afrikaans, Posbus 3256, Matieland,7602 
Faksnr: (021) 887-1999
Tel. nr: (021) 808-3745 / 44 
Dagbestuur en sekretariaat van die Vriende van Afrikaans Spitsraad: v.l.n.r. mnr Gideon Joubert, dr Louise Combrink (Voors.), en Mev Amanda de Stadler.

Moenie wag nie. Doen asseblief dadelik iets vir Afrikaans. Laat ons asseblief weet as u 'n lid wil word of 'n tak wil stig. 'n Aansoekvorm vir lidmaatskap van die Vriende van Afrikaans kan afgelaai word deur hier te kliek of alternatieflik hier. Ons wil graag met u in aanraking kom en bystand verleen. Lees hier van die aktiwiteite van die Vriende van Afrikaans op George. Die jongste nuusbrief DOENDINGE van die Vriende van Afrikaans is hier beskikbaar.